Vergifnis is onregverdig


Normaalweg, wanneer ek seergemaak is en ek moet vergewe, probeer ek ‘n stappie terug neem en oorweeg dat dinge nie in isolasie gebeur nie en mense selde booswillig is nie. Op die ou end is dit mos gebroke mense wat gebrokenheid versprei.

In my gedagtes is dit ‘n weegskaal, wat my kant en hul kant opweeg. “Is my pyn geregverdig of was hul optrede geregverdig?” Ek probeer die skaal ‘n bietjie gelykmaak. Dit maak dit makliker om te vergewe, voel dit my.

Daar is twee probleme met hierdie benadering. Eerstens, daar kan ‘n konteks wees en hul bedoelings mag nie booswillig wees nie, maar ek was steeds seergemaak. ‘n Vriend het eendag vir my gesê “ons kan nie beheer wat ons seerkry nie”. Dit het my getref, ek eindig dikwels dat ek kwaad vir myself is omdat ek seergemaak is. Ek het gesien dat van my vriende as die skuldige party geidentifiseer word, juis omdat hulle seergemaak is (veral in ‘n kerk). Ons moet onsself herinner dat dit okay is om emosies te hê. Emosies gebeur en of dit geregverdig is of nie, is die waar. Emosionele pyn is ‘n baie werklike ding.

Tweedens, deur die skaal in my gedagtes in balans te bring, vergewe ek eintlik glad nie. Ek stel iets op wat meer regverdig voel. Vergifnis is nie regverdig nie. Dit is die punt. Geregverdigde vergifnis is nie vergifnis nie, dit is eenvoudig ‘n transaksie.

Ek leer dat ek nie my emosies hoef te minimeer om te vergewe nie. Ek leer dat vergifnis is om in te leun in die onregverdigheid. In werklikheid is dit ‘n viering van die onregverdigheid. Dit kommunikeer dat ek meer waarde aan jou heg, as wat ek heg aan (my idee van) geregtigheid.

Vergifnis is juis ‘n erkenning aan myself dat ek eintlik seergekry het. Dat hierdie situasie nie regverdig voel nie. En vandaar af om te kies om te vergewe.

Vergifnis is uiteindelik ‘n sakrament. Dit is om deel te neem aan die onregverdigheid van genade wat onregverdig aan ons gegee is.

This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar