‘n Pa se liefde

Ek het gister ‘n artikel gelees oor ‘n dominee, Hein Kotzé, in die NG kerk wie se dogter gay is. Dit praat oor sy en sy vrou se stryd met dit en die aanvaarding daarvan. Later hoe hulle die dogter se maat ook aanvaar en ingeneem en liefgehad het. En op die ou einde tot ‘n troue gehou het.

Hy gaan aan om te vertel oor liefde en aanvaarding van gay mense in die algemeen. Dit was vir my vreeslik mooi. Sag en menslik. Liefdevol.

Ek het na die kommentaar van die artikel gekyk. Dis ‘n baie slegte idee, gewoonlik maak dit my net seer. Daar was verbasend min kommentaar, wat ‘n goeie ding is. Een reëltjie het vir my uitgestaan “ek dink die doom [sic] sou anders gereageer het as sy dogter nie gay was nie”.

Vanoggend het ek weer aan hierdie kommentaar gedink. Sy opinie is gevorm omdat hy lief is vir sy dogter en lief is in ‘n manier wat net ‘n ouer vir sy kind kan wees. Totaal onvoorwaardelik. Hy is nie objektief oor sy kind nie.

Hier is die “catch”, sy is nie net ‘n kind van Hein nie, sy is die kind van die Vader. Die “bias” wat die hy het vir haar is ‘n skadu van die “bias” wat die Vader het vir haar. Hein se nie-objektiewe opinie oor sy dogter, is die opinie van die Vader. Dis die regte opinie.

Wanneer ons met mense omgaan, moet ons besef daai lens van onvoorwaardelike vaderlike liefde, is die regte manier om na ‘n mens te kyk. Dis die konteks waarin hulle bestaan, omdat dit is hoe God hulle sien. Objektiwiteit oor ‘n mens is die verkeerde beginpunt.

My pa sê altyd hy het die liefde van die Here eers verstaan toe hy kinders gehad het.


Hier is die oorspronklike artikel.

Posted in Teologie | 2 Kommentaar

Jesus en die Vader aan die kruis

Het jy geweet God het nooit Jesus verlaat aan die kruis nie? Voor jy kwaad raak, Jesus sê self so in Joh 16:32.

“Kyk, die uur kom en het nou gekom dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen na sy eie toe, en My alleen sal laat; tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader met My is.” – Joh 16:32

Ek het vir ‘n lang tyd self gedink dis wat aan die kruis gebeur het. Jesus het tog uitgeroep: “Eli Eli lama sabachthani?” – “My God, my God, waarom het U my verlaat?”

Kom ons dink gou hieroor. Die taal in die Nuwe Testament is Grieks, maar hierdie stukkie is nie. Van die bystanders het tot gewonder of Hy nie dalk Elia roep nie. Dit is of Aramees of Hebreeus (die frase is baie dieselfde in die twee tale). Baie bystanders het glad nie verstaan wat Hy gesê het nie en het gewonder of Hy dalk Elia roep. Maar vir van die bystanders sou dit baie bekend gewees het. Nie net het hulle die woorde verstaan nie, maar hulle ken dit.

Dit is die eerste reël van Ps 22 – die kruisigings Psalm. En net soos wat ek die woorde “Let me not to the marriage of true minds” kan gebruik om na Shakespeare se Sonnet 116 te verwys, so verwys “Eli Eli lama sabachthani?” na Ps 22, dit maak veral sin as mens dink dat dit ook in die oorspronklik taal is.

Jesus was besig om na die profesie van sy kruisiging te wys in die Ou Testament. As mens dan gaan kyk na Ps 22, sal jy sien die spreker is verkeerd oor sy uitspraak aan die begin:

“Want Hy het die ellende van die ellendige nie verag of verfoei en sy aangesig vir hom nie verberg nie; maar Hy het gehoor toe dié Hom aangeroep het om hulp.” – Ps 22:25

Ewe skielik strook Jesus se uitspraak aan die kruis met sy woorde in Joh 16:32. Maar nou sit ons met klomp oorblywende teologiese idees wat uit hierdie misverstand gekom het. Ons sê tog God is te heilig om sonde te aanskou, so aangesien Jesus sonde geword het, moes Hy sy gesig weggedraai het.

Die eerste en grootste probleem met hierdie idee kom daarvan dat Jesus self God is. Jesus kan nie deur God verlaat word nie, want Hy is God. Om my punt nog duideliker te maak kyk bietjie na 2 Kor 5:19:

“God [het binne] in* Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou.”

Steeds steek daar iets in ons agterkoppe vas. God is te heilig om sonde te aanskou. Hierdie idee kom uit Hab 1:13 uit.

U, wat te rein is van oë om die kwaad aan te sien en die onreg nie kan aanskou nie – Hab 1:13a

Maar kom ek maak die vers gou klaar.

U, wat te rein is van oë om die kwaad aan te sien en die onreg nie kan aanskou nie — waarom aanskou U die trouelose, swyg U wanneer die goddelose dié verslind wat regverdiger is as hy? – Hab 1:13

So die Here aanskou sonde! Die aanname dat God te heilig is om sonde te aanskou, is bloot die spreker se idee van God.

Die Here is nie bang vir sonde nie. Hy is nie bang vir jou sonde nie. En Hy verlaat jou nie in jou sonde nie.

Die eerste keer wat ek dit gehoor het, het ek gewonder wat is die implikasie hiervan. Jy moet besef hoe goed jou Vader werklik is. Hy sal nie sy Seun verlaat nie. Daardie verhouding, wat nooit vir ‘n oomblik gewankel het nie, is die belangrikste waarheid in jou lewe. Hierdie idee gaan ek verder vat in my volgende post.

*As mens kyk na ‘n paar ander vertalings is dit duidelik dat God “in” Christus dit gedoen het en nie “deur” Christus nie.

Botticelli - Holy Trinity: Let op hoe die Vader nie net teenwoordig is nie, maar die Seun se arms ondersteun.

Botticelli – Holy Trinity: Let op hoe die Vader nie net teenwoordig is nie, maar die Seun se arms ondersteun.

Posted in Teologie | Tagged , , , | Lewer kommentaar

Mense, my erfdeel

Dink vir ‘n oomblik hieroor, Jesus se motivering vir die kruis is verhouding. Hy is so opgewonde oor die persoon langs die straat, die persoon wat jy nie twee keer na kyk nie, dat Hy gesterf het vir hom. Dit laat my nie net dink aan die Here se liefde nie, maar dit laat my wonder wat is dit aan daardie persoon wat ek nie sien nie?

Ek het in die maand van Mei bietjie in Zimbabwe en Zambia rondgereis om vir mense goeie nuus te vertel. Op die bus van Harare na Kariba, nadat die Celine Dion CD klaar was, het hulle begin local musiek speel – veels te hard en hakkerig.

Ek het my selfoon uitgehaal om musiek te luister, om so bietjie te ontsnap. Toe werk my oorfone nie. ‘Enhancement not supported’. Ek het nog nooit daai error gekry nie. Ek het gevoel dis dalk bietjie te toevallig, maar nadat ek gebid het daarvoor, geblaas het en bietjie gevloek het; het dit weer gewerk. Soos ek die oorfone aansit, het ek besef ek is besig om die oomblik te verdoof en die gevoel gekry dat dit ‘n slegte idee is. “Thinus, don’t you dare miss this.”

Ek het my musiek gestop en die oomblik ingeneem. In ‘n oorvol bus, in Zimbabwe, met modder hutte wat verby flits en township musiek wat te hard speel. Dis vir my vreemd, dis vir hulle normaal.

In daardie oomblik het dit duidelik geword hoekom ek gekom het. Nie net om te preek nie – ek kon mos by die huis dit gedoen het. Nie net om te leer nie. Ek het gekom om die mense te geniet. Ek was oorkom met die gevoel dat ek myself wil in leef in hulle musiek, kos, verhoudings – in hul lewe.

‘n Vriendin het my nou die dag vertel hoe – elke keer as sy bid vir geld – gee die Here vir haar nuwe mense in haar lewe om lief te hê. Ek is mal hieroor! Jy vra vir geld en Hy gee vir jou sy kosbaarste ding. Jy vra vir geld en Hy maak jou werklik ryk!

My erfdeel is Jesus se erfdeel en Jesus se erfdeel is mense. Die grootste geskenk is om mense te leer ken. Dis hoekom ek die wêreld wil reis, om die dimensies van die skat in die mensdom- van my skat – te leer ken.

Posted in Teologie | Tagged , , , | Lewer kommentaar

‘n Oomblik

Ek het hierdie gedig geskryf toe ek in Kariba, Zimbabwe was.

Skemer:
net sodat mens nog die bosse,
die baie water
en die verdofde donker pienk lug kan sien.
En die liggies.

‘n Man sing met verlange oor die vaderland
… sou ek raai.
Moeë silhouette dans soos seegras,
soos die taksie teen ‘n rustige spoed die draaie vat.

Posted in Gedigte | Tagged | Lewer kommentaar

Ons begin

Michelangelo se The Creation of Adam in die Sistine Chapel wys vir ons ‘n paar van die snaakse idees wat ons het oor ons God. Hier het ons God geskep in die beeld van die mens. Spesifiek ‘n ou, wit man met ‘n lang grys baard. Baie, baie naby aan hoe ons Zeus uitbeeld. Verder strek Hy Homself uit na ons op die oomblik van ons skepping en verwyder Homself weer.

In my vorige post het ek gepraat van Jesus wat God openbaar soos Hy werklik is. Die sentrale waarheid aan die wese van God is dat Hy nie net liefdevol is nie, maar dat Hy in Homself liefde is. Hy is verhouding. In hierdie beeld is ons geskape. Geskape in die beeld van Liefde, van Lewe, van die Skepper. Soos ons Hom leer ken, leer ons, ons oorsprong ken.

Die beeld van Liefde in die mensdom kan nie verwoes word deur die val nie. Sonde kan dit nie vernietig nie, dit kan dit net verberg. Dit verduister net die waarheid oor wie ons is en oor waar ons begin het. Totdat die Lig dit openbaar.

Terug na die skildery, dit wys hoe ons dink ons God nou met ons omgaan. Dit is vir Hom moeite, Hy strek Homself uit en dan raak Hy ons skaars aan met die punte van sy vingers. In die skildery het Hy Adam lewe gegee met net ‘n oomblik se aanraking. Hoe smag ons nie vir so ‘n oomblik in die kerk nie. Ons druk onsself, ons moet die Here kry om tog net iets te doen!

Die realiteit is Hy het ons liggame gevorm uit die grond. Hy het ons aanmekaar gepleister met sy hande. Ons liggame is, soos ‘n Dylan Lewis standbeeld, oortrek met sy vinger merke. Ons is gemaak vir sy aanraking. Dan gee Hy vir ons lewe nie deur Homself na ons kant toe uit te strek en ons aan te raak met sy vinger punte nie. Hy strek Homself oor ons liggaam en blaas sy Lewe in ons. Hy soen ons.

Posted in Teologie | Tagged , , , | Lewer kommentaar

Wie is God?

Ek het my lewe lank gesukkel om twee teenstrydige sieninge oor God te balanseer. Hy is lief vir my, maar ek moet ook bang wees vir Hom. Ek het, soos baie mense, die een siening bietjie onderdruk, want dit het my te ongemaklik gemaak, maar dit het gebly krap aan my. Hier is twee aanhaling van Jonathan Edwards, ‘n 18de eeuse Amerikaanse teoloog, wat hierdie teenstrydigheid baie duidelik maak.

The bow of God’s wrath is bent, and the arrow made ready on the string, and justice bends the arrow at your heart, and strains the bow, and it is nothing but the mere pleasure of God, and that of an angry God, without any promise or obligation at all, that keeps the arrow one moment from being made drunk with your blood. — Jonathan Edwards, Sinners in the Hands of an Angry God

The apostle tells us that ‘God is love’; and therefore, seeing he is an infinite being, it follows that he is an infinite fountain of love. Seeing he is an all-sufficient being, it follows that he is a full and overflowing, and inexhaustible fountain of love. And in that he is an unchangeable and eternal being, he is an unchangeable and eternal fountain of love. — Jonathan Edwards, Charity and Its Fruits

Ons definieer God as almagtig, alwetend en alomteenwoordig. Per definisie moet Hy so wees om God te wees. Maar nou het die van ons wat onsself Christene noem ‘n probleem in die persoon van Jesus.

Hy kom om aan ons die Vader te openbaar soos Hy werklik is. Dit beteken daar is ‘n probleem met ons persepsie van Hom. Meer nog Jesus sê as ons Hom sien, sien ons die Vader. As ons Jesus sien, sien ons God. Maar hierdie Jesus is ‘n mens – Hy is nie alomteenwoordig nie, Hy is ook nie alwetend nie (Hy weet bv. nie wanneer Hy weer gaan kom nie).

Jesus, as inkarnasie van “God met ons”, illustreer vir ons God se liefde. Sy vleeswording en kruisdood is die noodwendige gevolge van God se liefde vir ons. Jesus is die bewys dat God van ons hou, nog altyd! Hy is nie kwaad vir ons nie! Ek gaan in ‘n ander post in detail oor dié ingaan (ek raak sommer opgewonde).

Jesus openbaar nog ‘n baie belangrike ding. Hy praat van sy Vader, maar Hy maak ook duidelik dat Hy en die Vader een is. Jesus is God, maar Jesus staan in verhouding met sy Vader, wat ook God is. (Snaaks hoe die drie-eenheid mens ‘n kopseer kan gee.) Jesus kom openbaar aan ons sy verhouding met die Vader. Hy kom openbaar dat God in Homself verhouding is. God het nie net ons lief nie, Hy is liefde.

Liefde is net liefde as dit vloei van een wese na ‘n ander. Dit is net waar in ‘n verhouding. Soos wind wat net wind is as dit waai. Voor die skepping was, is hierdie God reeds, in Homself, liefde – in Homself verhouding. Verhouding tussen Vader en Seun, Seun en Heilige Gees, en tussen Heilige Gees en Vader.

Om terug te kom na die na die oorspronklike probleem van die teenstrydige sieninge oor God. Baie mense sal sê wat ek sê is goed en wel, maar ons moet nie vergeet van God se heiligheid nie. “Ons moet sy liefde balanseer met sy heiligheid.”

Heiligheid het bietjie van ‘n slegte reputasie. Heiligheid beteken eintlik afgesonder, maar word oor die algemeen verstaan as ‘n vorm van vlekkeloosheid of sondeloosheid. Ek het altyd gedink aan God se heiligheid as ‘n koue afsondering, klinies skoon, vlekvrye staal. “Moenie naby my kom nie, netnou bemors jy my.” Hierdie “heiligheid” is dan net ‘n ander woord vir eerste siening van God.

Kom ons kyk eers gou na die idee van afsondering. Athanasius (circa: 320) sê dit vir my so mooi:

This He did [become man] that He might turn again to incorruption men who had turned back to corruption, and make them alive through death by the appropriation of His body and by the grace of His resurrection. Thus He would make death to disappear from them as utterly as straw from fire.

Die woord appropriation wys na iets eenkant sit vir ‘n spesifieke doel. Hy is nie afgesonder van ons nie, hy was bekend om saam met sondaars om te gaan. Christus is heilig in die sin dat Hy afgesonder is vir ons. God se vleeswording – sy liggaam – is eksklusief vir die mensdom.

En die ander algemene idee van vlekkeloosheid of sondeloosheid? Sonde is bloot liefdeloosheid, dus moet sondeloosheid liefde wees. Maar liefde is nie vervelig nie. Dit kan nie wees nie. Liefde (en dus verhoudings) is juis morsig. Dit kan nie klinies skoon wees nie! Dit is vol vreugde en is dinamies! Die idee van “holier than thou” is ‘n teenstelling. Selfs met goeie morele waardes, kan iemand wat homself verhef, nie liefde uitstraal nie.

Die Here is nie bang vir jou sonde nie. Van die dag wat Hy jou uit die modder opgetel het, getuig die vlekke op sy kleed van sy heiligheid. Toe Hy ons, wat nog steeds sonde doen, met Homself vereenselwig het, het die diepte van ons ellende, juis die diepte van sy liefde en heiligheid geopenbaar.

Jesus wys vir ons vir God werklik is. Enige idee van God wat nie ‘n oorsprong het in Jesus nie, is ‘n leuen. Hierdie post is net ‘n inleiding om ons op ‘n pad te sit. Ek gaan in die toekoms kyk na hoe Jesus vir ons, ons plek in die storie wys. Ons gaan onsself verdiep in hierdie liefdes verhouding binne ons God.

Die Here is beter as wat ek nog ooit gedink het.

Posted in Teologie | Tagged , , , | 2 Kommentaar

Die leeu is God

Ek lees op die oomblik Christianity Rediscovered deur Vincent Donovan. In die boek beskryf Donovan sy werk met die Masai. Spesifiek raak hy aan evangelisasie werk met mense wat nog nooit die naam van Jesus gehoor het nie en nie woorde het vir ‘geloof’ en ‘vryheid’ nie. Hier is ‘n stuk wat ek graag met julle wil deel.

In a conversation with a Masai elder, the elder pointed out that the word Donovan used for faith is unsatisfactory in their language. It literally means ‘to agree with‘.

‘“To believe” like that’, the elder said, ‘was similar to a white hunter shooting an animal with his gun from a great distance. Only his eyes and his fingers took part in the act. We should find another word’. He continued: ‘for a man really to believe is like a lion going after its prey. His nose and eyes and ears pick up on the prey. His legs give him the speed to catch it. All the power of his body is involved in the terrible death leap and single blow to the neck with the front paw, the blow that actually kills. And as the animal goes down the lion envelops it in his arms (Africans refer to the front legs of an animal as its arms) pulls it to itself, and makes it part of himself. This is the way a lion kills. This is the way a man believes. This is what faith is’.

Donovan’s response? Silence, and amazement: ‘Faith understood like that would explain why, when my own was gone, I ached in every fiber of my being’. But the Masai elder had not finished speaking to Donovan:

‘We did not search you out, Padri … We did not even want you to come to us. You searched us out. You followed us away from your house into the bush, into the plains, into the steppes where our cattle are, into the hills where we take our cattle for water, into our villages, into our homes. You told us of the High God, how we must search for him, even leave our land and our people to find him. But we have not done this. We have not left our land. We have not searched for him. He has searched for us. He has searched us out and found us. All the time we think we are the lion. In the end, the lion is God’.

Posted in Teologie | Tagged | Lewer kommentaar